Dankbaarheid, glo sy, is die beginpunt om alles in jou lewe te verander – as jy dankbaar is, sal jy nie fokus op dít wat jy dalk dink moet anders wees nie, vertel die aktrise Leandie du Randt in die Januarie-uitgawe van SARIE.
“Jong mense kom dikwels na my praatjies (Leandie bied motiveringspraatjies aan op grond van haar boek Gemaklik in jou eie lyf) en sê hulle het nog nooit só daaraan gedink nie – dat jy moet fokus op die goeie eerder as die slegte in jou lewe. Dan gaan jy meer goeie dinge in jou lewe aantrek. Wees dankbaar jy moet hard werk, want jy het ’n werk. Oor jou kêrel wat laat werk, want hy doen goed vir homself. Doen dit tot dit ’n gewoonte raak. Dis moeilik in die begin, maar ek doen dit nou al ses jaar en nou dink ek nie meer daaraan nie.”
“Hoe meer goed jy sien, hoe meer geleenthede sien jy, hoe beter sal dit gaan.”
– Leandie du Randt
“As ons land se toekoms soos ’n gemors lyk, dan hanteer jy dit as dit ter sprake is. Dit help nie om nou al te kla of jou te bekommer nie.”
Dis dié denkwyse wat maak dat mense dikwels verbaas staan oor wat Leandie alles vermag het in een van die moeilikste tye in haar lewe, glo sy. Haar ma, Elmarie, was ses jaar lank siek met Alzheimersiekte en is twee jaar gelede oorlede, maar Leandie se loopbaan het in dié tyd steeds geblom.
“Toe my ma dood is, was dit moeilik om dankbaar te wees – waarvoor moet ek dankie sê as my ma nie by my troue gaan wees nie, of my drome gaan sien waar word nie? Maar toe gaan soek ek dinge om voor dankbaar te wees – dat sy nie pyn gehad het nie, dat sy by ons was vir so lank as wat sy was, dat die moeilike tyd my sterk gemaak het.
“Dit beteken nie ek voel niks nie. Ek word kwaad en hartseer en in sommige praatjies bars ek in trane uit as ek oor my ma praat. Maar ek kry dit uit en dan kies ek weer joy.
“Dit beteken nie jy’s bly slegte dinge het gebeur nie, of dat jy die lelike dinge goedkeur wat mense aan jou doen nie. Dit beteken jy kies om dit te laat gaan sodat dit jou nie opvreet nie.”
![FOTO Leana Clunies-Ross]()
FOTO Leana Clunies-Ross
Sien sy haarself as ’n selfhelp-ghoeroe?
“Nee wat. Mense moet tog net nie dink hulle moet doen wat ék sê nie. Ek is beslis nie perfek nie. Daar is extensions in my hare, ek lyk ook vaal sonder grimering, ek moes ook al gewig verloor in my lewe. Maar ek het ’n groot dryfkrag om mense te help om hul potensiaal te bereik en ek hoop my stories – my praatjies, my boek of dalk net iets kleins in ’n bubblegum-fliek waarin ek speel – kan iemand daarbuite inspireer.”
Lees die volledige onderhoud met Leandie in ons Januarie-uitgawe – nou te koop!
Ons daag jou uit!
Leandie se houding oor die lewe inspireer óns. Van ons spanlede gaan vir die res van die maand elke dag drie goed neerskryf waarvoor ons dankbaar is. Ons daag jou uit om dit saam met ons te doen!
Skryf dan aan ons en sê of dit ’n verskil in jou lewe gemaak het. Stuur jou e-pos na lucelle.hough@sarie.com en ons deel jou ervaring met die SARIE-gemeenskap.
Nóg van ons voornemens vir 2017
(Blaai deur die galery)
Kry jou Januarie-uitgawe vandag nog!
![januarie 2017 leandie du randt]()
Lees nou
Leandie du Randt se besige 2017
2017 se TV-seisoen skop af met Lady Gaga as Donatella Versace
Top-reisplekke vir 2017
Hello 2017! Laai jou gratis Januarie kalender hier af!
The post Leandie se geheim vir ’n gelukkige lewe ná hartseer appeared first on SARIE.