Die aktrise Elma Potgieter en haar verloofde, Paul Potgieter, het op 14 Desember in die hartjie van Limpopo voor 50 gaste getrou. Intiem, spesiaal en uniek. En nou is hulle reg vir hul nuwe lewe as pasgetroudes.
“Dit was die perfekte dag en ek het met my droomman getrou in ’n Anel Botha Couture-skepping. Jude Harpstar het die harp gespeel tydens die seremonie en voor die onthaal – dit was so mooi! Ons was omring deur ons naaste familie en vriende en ek het lanklaas in my lewe soveel geluk en liefde op een dag ervaar,” het Elma oor die groot dag vertel.
Elma vertel oor haar rok:
Anel het vir maande lank gewerk aan dié sjampanjekleur rok, waarop daar kant en honderde kraletjies met die hand vasgewerk is. Sy het die vintage gevoel wat ek wou hê, perfek vasgevang. Ek het van die begin af geweet dat Anel die een ontwerper is wat my lyf en my idees verstaan, daarom het ek haar gevra om my rok te maak. Sy was wonderlik deur die hele proses en het soveel moeite gedoen!
![Elma Postma Sketch]()
![FOTO Anne Grace Photography]()
FOTO Anne Grace Photography
Anel gesels saam oor die rok:
Elma het ’n nousluitende A-lynrok gedra, met ’n handgeborduurde simmetriese kant-bolyfie. Die kapmoutjies en rugkant is ook met pêrels borduur om die vintage gevoel te skep.
Tydloos, elegant, uniek, met ’n tikkie vintage … of nee, maak dit eerder báie vintage! Elma se rok was geïnspireer deur, wel, Elma natuurlik. Ons albei deel ’n eienskap, en dis dat ’n deel van ons siel in die “ou dae” agtergebly het. Dae wat bestaan het voordat ons nog gebore was.
Daarom die volle, handgeborduurde bostuk wat ’n sterk Gatsby-gevoel gee. Die sjampanjekleur en silwer van die rok was ook vir Elma van groot belang. Ons het seker gemaak dit pas haar gelaat sowel as by ons 1920’s-inspirasie.
Elma oor haar man:
Paul was ’n galante heer in sy pak wat spesiaal gemaak is vir dié geleentheid. Ek was sommer van voor af verlief.
![FOTO Anne Grace Photography]()
FOTO Anne Grace Photography
![FOTO Anne Grace Photography]()
FOTO Anne Grace Photography
Elma oor die onthaal:
Die onthaal-area was versier met honderde kerse en proteas, vetplante en rose en die tema was landelik (rustic), ontspanne en eie aan die Bosveld. Daar het selfs ’n reënbui geval, maar gelukkig net in die oggend. Alles was skoongewas en ons was omring deur pragtige natuur. Dit was ’n baie spesiale dag waaraan ek niks sou verander het nie.
![FOTO Anne Grace Photography]()
FOTO Anne Grace Photography
Elma het oor die jare geblom
Ons het haar leer ken as die kelnerin Dezi Terreblanche op die SABC 2-sepie 7de Laan. Dit was moeilik om die stil, ambisieuse Dezi ná sewe jaar in 2007 te groet, maar Elma het geweet sy moet. Nie net omdat sy te gemaklik geraak het in die rol nie, maar ook omdat sy gevoel het sy het haarself verloor. In SARIE se Maart 2008-uitgawe het Elma meer oor hierdie besluit vertel:
“Ek het vergeet wie Elma is. Ek weet nie meer waarvan ék hou nie, want ek het lank nie kans gehad om selfondersoek te doen nie. Ek wou myself in die bedryf én in my eie lewe as Elma hervestig.”
Nadat sy weg is uit 7de Laan, het sy twee maande lank geen selfvertroue gehad nie. Toe staan Elma Postma een oggend op en dink: “Ek’s oukei. Ek mág ophou dink ek is net Dezi. Ek is nie. Ek mág glo ek is ’n aktrise!”
![Elma in 2009 vir SARIE se Junie-uitgawe. FOTO Clinton Lubbe]()
Elma in 2009 vir SARIE se Junie-uitgawe. FOTO Clinton Lubbe
Oor die jare het die aktrise Elma geblom en gereeld in kykers se sitkamers kom kuier – as die eerste aanbieder van kykNET se Boer Soek ’n Vrou, in Ontbytsake, Binnelanders en nóú op VIA (kanaal 147) se Plaaskombuis.
In SARIE se Junie 2009-uitgawe het Elma toe gewonder of sy nie té onafhanklik was vir ’n verhouding nie.
“Ek neem groot besluite oor finansies en eiendom op my eie. Ek doen alles self. Ek hoef niemand se toestemming te vra nie. Maar ek wil weer sag word en ek wil weer oorgee. Soms voel ek as daar ’n man in my kombuis staan as ek sulke moeilike besluite moet neem, sal ek kan sê, ‘Dankie tog, jy’s hier’. Dit sal lekker wees as hy bietjie vir my kan sorg.”
![sr0906elma (4)]()
FOTO Clinton Lubbe
Sy’t verder ook verklap wat sy in ’n ideale man soek:
– Hy moet haar reguit in die oë kan kyk.
– Stylvol maar gemaklik aantrek.
– Hy moet ferm gebou wees, maar soek nie ’n spierpaleis nie.
– Hy moenie onnodig jaloers wees nie en hy moet verstaan dat sy soms aandag aan haar aanhangers moet gee.
– Iemand wat haar vryheid gee om haar eie ding te doen.
– Met ’n sin vir humor.
– Wat haar ambisie verstaan.
“Hy moet ook nie bang wees om sy emosies te wys nie, want dit beteken hy sal my emosioneel kan ondersteun. ’n Man wat nie kan huil nie, sal my nie kan verstaan nie.”
As ons so na die troufoto’s kyk, kan ons sien al haar drome van destyds het waar geword – sprokiestroue en al!
![FOTO Anne Grace Photography]()
FOTO Anne Grace Photography
Die volgende mense het ’n groot rol gespeel en die paartjie wil hulle graag opreg bedank:
- Rok: Anel Botha Couture
- Foto’s: Anne Grace Photography
- Onthaal: Kuthaba Bush Lodge
- Dekor en blomme: De Villiers-blomme in Modimolle
- Ekstra dekor en drukwerk: The Wedding Warehouse
- Troukoek: Die Bakhuis, Modimolle
- Musikant: Jude Harpstar
- Grimering van bruid, asook hare van familie: Valencia Mcleod
- Grimering van familie en strooimeisies: Isabel Asamu
- Bruid se hare: Sandy Francis, Duchess of mane
- Video: Bulelani Busakwe
- Produkte en behandelings: Cosmetique2000; Venus Concept Africa; Slender Wonder; Dragon Fitness, Atterbury, Pretoria.
Lees nou
Prinses Charlene se Kerskaartjie
Handré Pollard is verloof
Paartjie neem weer troufoto’s – 40 jaar later
The post FOTO’S: Elma Postma se groot dag appeared first on SARIE.